DIE BEELD: UJ besin weer oor bande met Israelse universiteit

UJ BESIN WEER OOR BANDE MET ISRAELSE UNIVERSITEIT
Alet Rademeyer
Die Beeld - South Africa - [27_09_2010]

Die senaat van die Universiteit van Johannesburg (UJ) vergader môre om te besluit of hy sy bande met die Ben Gurion-universiteit van die Negev (BGU) gaan verbreek op grond van dié instelling se steun aan die Israelse weermag.

Meer as 200 vooraanstaande Suid-Afrikaanse akademici van 22 universiteite en bekendes het ’n petisie onderteken om die UJ te versoek om sy bande met die BGU te verbreek.

Onder hulle is emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu, dr. Allan Boesak, mnr. Kader Asmal, proff. John Dugard, Barney Pityana, Neville Alexander, Wilhelm Verwoerd, Hein Willemse, Gerrie Lubbe, Mohamed Haffajee, Farid Esack, Piet Erasmus en die skrywers Antjie Krog en Breyten Breytenbach.

Die akademici het in ’n verklaring gesê enige verbintenis met ’n instelling soos die BGU wat soveel belang by die Israelse besetting van Pale-stynse gebiede het, kom neer op samewerking met ’n groep wat die waardes en beginsels van die demokrasie verguis.

Hulle meen Suid-Afrikaanse instellings is onder ’n verpligting om betrekkinge te heroorweeg wat in die apartheidstyd met instellings gesmee is wat hul oë vir rasse-onderdrukking gesluit het.

In die petisie word verwys na die Israelse besetting van Palestynse gebiede wat ’n rampspoedige uitwerking op toegang tot onderwys vir Palestyne het.

Israel se aanvalle wat Palestyne toegang tot onderwys ontneem, is ingevolge die internasionale reg onwettig, lui die petisie.

Dit lui voorts dat terwyl die Pale-styne in Israel meer as 20% van die bevolking uitmaak, net 9,5% van voorgraadse studente, 4,5% van meesters- en 3,2% van doktorale studente en 1% van die akademiese personeel in Israelse akademiese instellings Palestyne is.